Huweliksbeloftes




Matt 19:4-6:
“ ...Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het, en gesê het om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”
Hierdie bogenoemde gedeelte is die fondament van ons huwelik. Ons huwelik is `n belofte tussen ons en God om tot die dood toe nie van mekaar te skei nie. `n Belofte aan God noem ons `n gelofte en die Bybel vermaan ons om ons geloftes te betaal.
Prediker 5:3 – 4 : “As jy `n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe het. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.”
Die huwelik moet ernstig opgevat word, maar die tendens in die wêreld vandag is juis die teenoorgestelde. Mense trou nie meer vandag met die nodige erns wat die huweliksbelofte vereis nie en daarom is skei so maklik. Anders as wat mense dink is skei nie so maklik nie, dis `n wrede regsproses wat julle lewe saam in twee skeur en nie een party kom sonder skade daardeur nie.
 Elke paartjie moet voor hulle troue die vraag beantwoord: As skei nie `n opsie is nie, sal ek steeds met hom trou?
Die ander neiging onder die jeug vandag is om eers saam te bly en te kyk of dit kan werk. Dit is `n flou verskoning en rugraatlose ouers wat sulke dinge toelaat of goedkeur. As jy bereid is om saam met `n jou geliefde te bly, kan jy mos net sowel trou. Maar weereens wil hulle nie die belofte maak nie en die agterdeur alyd oop hou. Plus dis darem baie goedkoper om net uit te trek as om te skei.
Aan die anderkant kan `n mens half die jeug se redenasie van saambly-dan-trou verstaan as `n mens hoor hoe ouer mense oor die huwelik praat. Die huwelik is blykbaar so bindend dit versmoor `n mens se identiteit. Jy het blykbaar geen vrye tyd meer nie en jy mag ook nie meer rondloop of selfs kyk nie. Ai, hoe erg! Die ouer mense sal ook vir jou sê om seker te maak jy het eers `n beroep en geld en goed en en en. Dis asof hulle die huwelik wil uitmaak as `n “lifesucking” gebeurtenis. As jy nie al hierdie goed het voor jy trou nie, beteken dit tog nie dat jy dit nie kan doen terwyl jy getroud is nie.
As jy getroud is kan jy verder leer, of `n ambag loop of geld spaar vir `n huis of kar. Die huwelik sluk nie al jou opsies in en los jou weerloos in jou man se genade nie. Die huwelik is juis `n veilige hawe waaruit jy verder kan studeer met aanmoediging, waar julle saam kan spaar vir `n huis of kar, waar julle saam kan droom en leef.
Ek wens meer ouer mense wil goed praat oor die huwelik. Sê vir jou kinders dis so lekker om `n maat te hê om mee die lewe te kan deel. Stel belang in mekaar, gee mekaar vryheid, moedig mekaar aan in wat ookal die ander aanpak, aanbid God saam en vertrou jou maat en die huwelik sal regtig `n fees wees.
Ek wens ook meer vroue wil ophou om hulle mans sleg te sê by vriendinne of self vreemdelinge. Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor. Konsentreer op die goeie dinge of bly eerder stil.
Ons is nog `n jong getroude paartjie met `n klein seuntjie wat nou eers begin in hierdie wêreld en enetjie wat nog oppad is, maar kan met sekerheid sê dis nie so aaklig soos wat lank getroude paartjies jou wil laat glo nie. Dis regtig `n fees, harde werk, maar `n fees.
In elk geval: You wanted one and you wanted that one!
Groete MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies