Opdatering van Potty training van geboorte af




Ek is bly om te sê dat Seun1 nie sy eerste verjaarsdag in doeke gevier het nie. Op 11 maande het ons hom heeltemal van die doek afgehaal en dra hy net “potty trainers” in die dag. Hy doen baie goed met die verandering alhoewel hy nog glipse  het, gaan hy nie sommer deur meer as 2 “potty trainers” in `n dag nie.  Seun1 weet hoe om te wys as hy toilet wil gaan maar hy wys die teken slegs een keer en as jy dit gemis het, is dit nou maar so.

Ek het `n oulike boek aangekoop by Bargian Books genaamd “Nappy free baby”. Die skrywer stel dinge `n bietjie meer kras as waarmee ek gemaklik is maar dit is `n eenvoudige uiteensetting vir enige iemand wat meer daaroor wil oplees.  Die skrywer verduidelik in die boek dat peuters vanaf `n jaar tot en met 15 maande deur `n fase gaan waar hulle minder tekens wys omdat hulle ontwikkeling op die ouderdom baie tyd en gedagtes in beslag neem. Sodra hulle oor die fase is sal jy nie glo hoe oulik hulle is om weer te wys of selfs te sê nie.
Die algemene opvatting is dat “potty training” op so `n rustige mate geskied dat jy net eendag gaan agter kom dat jou peuter geen glipse meer het nie en jy weet jy kan hom vertrou om vir jou te wys of sê.

Op 15 maande het ons begin om gewone onderbroekies te gebruik in die dag by die huis. As ons dorp toe gaan, trek hy steeds `n “pottytrainer” aan.
Op 18 maande gebruik ons 100% van die tyd onderbroekies. Hy sê psst as hy wil gaan piepie en “poep” as dit moet. Ek het ook begin om hom een keer `n nag toilet toe te vat as hy wakker word, wat gewoonlik so 23:00 is. Hy slaap nou ook tot amper 6 uur in die oggend. (Ek vermoed dis omdat sy blaas hom nie meer wakker maak nie.)

Net vir `n nota oor onderbroekies. Ek het regtig oral gesoek vir klein onderbroekies, maar omdat die tendens is dat kinders eers tussen 2 en 3 jaar onderbroekies begin dra, is dit ook die kleinste wat gemaak word. Ek het egter agtergekom dat alle 2-3jr grootte nie dieselfde is nie. Pep se onderbroekies is merkbaar kleiner as enige van die ander en het dus die beste van die lot gewerk. Ek het ook later by `n 2de-handse babawinkel onderbroekies van Ackermans opgespoor wat 3-6maande gemerk was. Ek is opsoek na nog sulkes.

As ek nou terugkyk oor die 18 maande van “potty training” sal ek die metode met elke kind doen. Seun1 weet nie eers daar is `n opsie  om in jou doek te gaan nie. Hy weet hoe om `n toilet te gebruik, hy voel deel van die gesin en ek is seker dit gaan sy selfstandigheid net `n hupstoot gee. Ek beveel dit vir enige mamma aan wat nog onseker is of sy dit moet doen. Dit is beslis die moeite werd.

Groete MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies