Hoe om goed gedoen te kry met 'n nuwe baba

Ek dink vir elke nuwe mamma is een van die grootste uitdagings om steeds die normale goedjies gedoen te kry terwyl jy omsien na 'n nuwe lyfie.

Met my eerste kind het ek gewag tot hy slaap en dan soos blits probeer alles gedoen kry. Dit het soort van gewerk totdat hy nie lus was vir 'n lang slapie nie of hy sou so lank huil ek kon net sowel nog 'n halfuur iets doen. Of jy is so moeg en het eintlik 'n slapie saam baba nodig maar besef dan dat jy nie 'n ander tyd het om iets te doen nie.

Nou het ek 3 kinders: 'n 4jarige, 'n 2jarige en 'n baba. Ek gebruik nou 'n ander manier van dinge doen. Ek skryf elke oggend gou 'n lysie van dinge om te doen. Ek verdeel die lysie dan in vinnige takies en langer takies. Ek doen dan elke kansie wat ek het 'n vinnige takie en vat dan een van baba se slapies om 'n langer takie te doen.

Prakties gewys doen ek die volgende:
Baba word wakker. Ek borsvoed hom. Haal sy doek af en laat hom toilet toe gaan. Sit nuwe doek aan en sit hom op sy speelplek neer om op sy eie te lê. Dan kyk ek na my lys en begin gou 'n vinnige takie doen soos gooi wasgoed in masjien. Baba is nog gelukkig, so dan kan ek gou skottelgoed was. Gestel baba begin nou huil, dan maak ek gou my takie klaar want 1 minuut se huil gaan hom nie méér ontstel nie. Troos baba of voed weer. Lê weer neer en doen volgende takie. So hou ek vir die hele wakker tyd aan. Soms vereis dit dat ek hom in 'n buidelsak saamdra om goedjies te doen.

Nou wil baba slaap. Ek hou op met my lys en vat hom kamer toe waar hy altyd slaap. Sodra baba slaap het ek nou 'n keuse: of ek kan ook slaap of ek kan 'n langer takie gaan doen. Die lekker ding is, ek weet ek het al goedjies gedoen so ek voel nie so genoodsaak om nou enige iets te doen nie.

So in kort is my metode as volg: Werk as kinders wakker is en rus as kinders slaap.

Soos baba groter word, doen hy saam met my takies en ek is nie heeltyd besig om hom te vermaak nie. Hulle leer om te werk op 'n speelse manier en geniet dit.

Laat weet asb hoe julle goedjies doen. Dalk leer ons iets nuuts bymekaar.

Groete Mamma S

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies