Binnehuise swaai vir baba

Ek het onlangs `n probleem gehad met baba #3. Hy kan al sit, maar nie regtig lank nie en as hy op die vloer is kan die ouer kinders hom moontlik beseer. So ek het `n plekkie nodig gehad om hom veilig neer te sit terwyl ek huiswerkies verrig. Ek het op `n babaswaai afgekom wat heel maklik gelyk het en dit probeer. (link na die oorspronklike inspirasie)



Hier is die stappe wat ek gevolg het indien jy dalk self een aan mekaar wil slaan.

Benodighede:

1m x 1m sterk materiaal
4 x 40cm "dowel"/tappenne
30cm x 30cm spons of "batting"
2 x 5m stukke tou
2 x carabiners


 Stap 1:
Sny materiaal soos volg:
Blok A: 30cm x 90cm (2 stukke)
Blok B: 30cm x 28cm (2 stukke)
Blok C: 15cm x 28cm (2 stukke)
Stap 2:
Werk die 2 stukke van Blok B aan 3 kante vas (regte kant na binne) en draai binne kante na buite.
Herhaal met die Blok C stukke. 

Stap 3:
Bepaal die middel van een van Blok A se stukke. Plaas nou Blok B bo-op Blok A sodat die middel van elke blok ooreenstem.
Herhaal met blok C sodat dit ooreenstem met blok A se middel.



Plaas nou die ander stuk van blok A bo-op alles en werk 3 kante vas. Dop nou alles na buite om. 

As jy die stuk omdraai behoort hy soos `n kruis te lyk.

Stap 4: 
Plaas nou die stuk batting of spons presies in die middel en stik dit vas. 
Werk ook nou die oop kant toe.

Stap 5:
Neem `n tappen en meet die hoeveelheid materiaal om om te vou, merk en werk vas.

Stap 6: 
Boor gaatjies 4cm van die kant af in elke tappen, dus 8 gaatjies in totaal. 



Stap 7:
Ryg die tappenne in die materiaal gedeelte (soos foto hierbo) en plaas nou die tappenne in `n vierkant met twee tappenne (die kante) bo en die ander twee tappenne (voor en agterkant) onder.  

Stap 8:
Ryg een stuk tou deur een punt (2 tappenne) en terug deur `n ander punt (2 tappenne) om `n vierkant te vorm met 2 boë tou. (sien foto hieronder) Knoop liggies onder elke tappen. Bepaal die hoogte van die boë (lengte van tou). Maak knope eers stewig vas wanneer die tou die regte lengte is. 




Stap 9: 
Maak `n knoop (lus) bo waar die tou gaan hang en druk carabiner deur die lus. Nou hang die toue elkeen aan sy eie carabiner. 

Stap 10: 
Hang en geniet!



Laat weet asb as jy dit self probeer.

Groete Mamma S

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies