6 “K”-Wenke vir kamp met babas en peuters


Om te kamp is een ding, maar om te kamp met `n baba of peuter of selfs albei is `n heel ander ding. Daarom wil ek hierdie wenke neerpen sodat ek dit nie vergeet vir die volgende keer wat ons die kampding aanpak nie.

*Met kamp bedoel ek in `n tent, met minimale geriewe in die buitelig.

Ons vat die volgende saam:
·         Kamp “gear”
·         Koskrat
·         Krat met kampgoed
·         Kanne vir water
·         Klere krat en badgoed

Wenk #1 Karrit
Ongeag waar jy gaan kamp, sal dit vir julle nodig wees om te ry tot daar. Ons eerste kamp was op Majuba wat ongeveer 700km van ons huis is. O, ja en ons het gaan kamp net vir `n naweek. Omdat babas en peuters in `n karstoeltjie moet sit volgens die wet, is hulle redelik beperk in wat hulle kan doen.  Probeer om hulle besig te hou met speelgoed en eetgoed.

Probeer om eerder `n naby geleë kampplek te kies vir die eerste kampavontuur, want as dit te erg raak kan julle maklik oppak en huis toe kom. Stop gereeld, eerder elke uur om daardie lyfies `n kans te gee om te rek en ook om te borsvoed. Sit agter in die kar langs die kleintjie, dit maak dit net makliker om eetgoed aan te gee, speelgoed uit te ruil of op te tel as dit val.

Wenk #2 Kamp “gear”
Ons vat `n klein tentjie saam net vir slaapdoeleindes. Seun1 het in `n slaapsak in ons tent op die vloer geslaap. Geen kampeerkot is regtig nodig nie. Kinders is aanpasbaar. Vat eerder `n drasak as `n stootwaentjie. Meeste kampterreine is...wel kampterreine met grond, gras, klippe, hobbels wat die stoot van `n waentjie regtig bemoeilik. Tensy jy in `n oord kamp met pragtige geplaveide padjies, kan jy eerder die waentjie tuis los.
`n Gazebo of iets soortgelyk is handig vir `n koelte plekkie om te speel of om van reën weg te kom. Gooi `n seil op die grond en dan `n kombersie vir `n lekker veilig speelplek.

Wenk #3 Koskrat
Dink aan maklike kos wat min of geen voorbereiding van mamma se kant verg nie. Jy gaan so besige wees met kleintjie dat jy nie ure gaan hê of lus wees om nog kos voor te berei ook nie. Dink aan toebroodjies, vetkoek, pannekoek of muffins wat met die hand geëet kan word. As julle wil vleis braai, stel ek voor om `n paar aande se vleis op die eerste aand te braai en dan net in `n koelhouer te hou. Gaar vleis word nie so maklik sleg nie en dit is een aand se moeite vir `n paar etes. Vat maklike kos vir kleintjies saam wat hulle ook met die hand kan eet.

Wenk #4 Kampkrat en plastieksakkies
Hierdie sakkies, wat ek glad nie van hou nie, is jou beste vriend as jy gaan kamp met kleintjies. Jy kan vuil klere daarin sit of vuil doeke wat later gewas moet word. Gebruik dit vir vullis in die tent of kar. Hou een altyd byderhand.
Ons kos, kampgoed en klere is in kratte met deksels. Plastiekkratte is jou beste opsie vir kamp. Dit is robuust en waterdig teen die reën. Dit kan ook dien as sitplek. Die laaste ding waarmee `n mamma wil sukkel is nat klere of kampgoed.
In die kampkrat is al die klein benodighede soos flitse, lampies, graaf, toue, vuurhoutjies, toiletpaier, eetgerei en opwasgoed. Dit kan netjies en veilig eenkant gehou word sodat klein handjies nie daaraan peuter nie.

Wenk #5 Kanne vir water
Water is so belangrik, dit verg sy eie punt. Vat genoeg water saam. Veral met kleintjies wil jy nie sukkel as hulle vuil gespeel is en daar is nie water in die kampterrein nie of as hulle dors is en al julle drinkwater is op. Vat 5lt water per persoon per dag saam. Ons reis met `n leë 25lt kan en stop dan op die laaste dorp en maak hom vol. Sodoende reis ons nie met ekstra gewig nie en ons het genoeg water vir die naweek. Vat eerder te veel as te min. Vat `n waterbottel vir elke persoon(self vir die kleinstes) saam eerder as glase.

Wenk #6 Klere en badgoed
Pak elke dag se klere in `n sakkie, saam met mamma se klere. Merk dan die sakkie met die dag voorop. Gryp elke dag net dié dag se sakkie en jy is reg om aan te trek. Gooi alle vuil klere in `n groot wassak (of swartsakke). Pak een stelletjie netjiese klere in `n ziplock sakkie apart vir `n spesifieke geleentheid wat julle wil bywoon bv. kerkdiens.
Pak vir die kleintjies `n badsakkie met al die badbenodighede in. Dit maak dinge baie makliker as jy moet stap na die ablusieblok toe. Koop of maak `n toe-rygsakkie om `n handdoek en `n stel klere in te sit. Vat dan net die sakkie saam vir badtyd.

Ek hoop hierdie lysie wenke kan van hulp wees vir die volgende avontuur.

Groete MammaS






Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies