`n Antwoord op die vraag


Voordat ek swanger was met Seun1 het mense my gevra wanneer gaan ons kinders kry? Na Seun1 het die vraag net so bietjie verander na wanneer kom die tweede een? Die basiese vraag wat hieruit kom is eintlik: so, wat is julle plan vir kinders?

En hier is my antwoord: Ek het nie plan nie!

Ek is `n wedergebore kind van God. Ek glo in die God van die Bybel. Ek glo as `n gelowige behoort alles van my aan God. Ek wil in God se wil lewe eerder as in my eie wil. Die Bybel sê in Spreuke 16:33 “ In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die Here.” Dit is duidelik hieruit dat God in beheer is oor elke kind.

Ons as mense en selfs ons as Christene wil maar ons eie koppe volg, ons eie planne maak en wanneer dinge skeef loop (want dit gaan as jy dit sonder God doen) wil ons by God weet hoekom. Ons wil altyd in beheer wees. En deurdat ons self besluit wanneer ons kinders kry en hoeveel, dink ons ons is in beheer. Die Bybel sê in Spreuke 3:5 : "Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie." Ek wil nie op my eie insig vertrou en my kinders beplan soos dit die neiging vandag is nie, ek wil eerder glo dat God `n plan met my lewe en my gesin het en Hom vertrou met my hele hart.

Ek het nie `n ‘ideale’ getal in my kop van die hoeveelheid kinders wat ek wil hê nie, maar ek weet ek wil nooit `n seën van God weier nie.  Die Bybel sê in Psalms 127: 3 : “ Kyk, seuns is `n erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is `n beloning.” My antwoord op hoeveel kinders ek wil hê is eenvoudig: soveel soos die Here aan ons toevertrou. (Ja, al is dit 10!)

Dit is nie maklik om op God te vertrou en te wag vir kinders in Sy tyd nie, want partykeer kom kind #2 of #3 baie later as wat ‘ons’ dit sou wou hê  of partykeer glad nie en dis dan wat dit moeilik raak om op God te vertrou en geduldig te wag vir Sy tyd en Sy plan vir ons lewe. Maar nou ja, wie het gesê dit gaan ooit maklik wees om `n kind van God te wees. 

Ek lewe stroom-op teen hierdie wêreld want ek kies dit elke dag. Ek kies om in God en Jesus te glo. Ek kies om my hele lewe in God se hand te plaas. Ek kies om op God alleen te vertrou vir al my behoeftes. En ek kies om God se plan vir my gesin te vertrou.

In kort: My antwoord op al die vrae wat ek daagliks moet beantwoord is: ek weet nie wanneer en of daar nog kinders kom nie, maar ek vertou op die Een wat weet.


Groete MammaS 

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies