Lapdoeke- Hoekom almal dit moet probeer


Net die woord “lapdoek”laat party mense wegskram. Wie wil in vandag se tyd nog sukkel met lapdoeke as daar `n baie “geriefliker” alternatief op die mark is? Hierdie is die redes waarom ons lapdoeke verkies.

1. Omgewingsvriendelik
Al wat `n produk is probeer om meer ‘green’ te wees, maar plastiek is `n groot struikelblok in die proses. Dit vat plastiek items honderde jare om af te breek in die natuur. Ons sê dis nie-bioafbreekbaar. Weggooidoeke dra in `n groot mate by tot hierdie probleem , dit is een van die grootste oorsake van besoedeling. As jou kind deur gemiddeld 6 doeke `n dag gaan vir 2 jaar is dit 4380 doeke per kind wat op die ashoop beland.

Die Bybel sê in Gen 1 dat God ons geskape het om oor die voëls,visse en diere te heers en in Gen 2 gee God die opdrag dat ons die aarde moet bewerk en bewaar.
Ek wil graag aan God gehoorsaam wees en die aarde bewaar en daarom verkies ek lapdoeke wat herbruikbaar is, nie net vir een kind nie, maar hopelik vir `n hele paar kleintjes.

2. Gesondheid
Het jy al ooit gewonder wat gebeur met daardie doek na jy dit weggooi? Dit lê in `n asblik en stink, dan gaan dit na die vullistrok en daarna na die vullisterrein waar mense die vullis sorteer. Ek is seker hierdie mense is nie te gaande oor jou kleintjie se vuildoek nie. Mense kan vreeslike siektes kry deur in kontak te kom met menslike afval. Maar ons naaste is deesdae die laaste ding waaraan ons dink.

 Met lapdoeke gaan menslike afval in die toilet af of deur die water in die drein af waar dit hoort. Deur lapdoeke te gebruik stel ek niemand se lewe in gevaar deur hom aan menslike afval bloot te stel nie.

3. Besparing
As jy lapdoeke aankoop is dit `n groot uitgawe of eerder `n belegging wat jy aangaan, maar as jy die koste gaan bereken per keer wat die kind hom gebruik, is dit definitief die geld werd. Nie net is dit `n eenmalige uitgawe vir baba #1 nie, maar #2 kry dus gratis doeke.

Vir `n pak lapdoeke om voltydse te gebruik kos dit so R4000. As jou kind deur gemiddeld 6 doeke `n dag gaan vir 2 jaar is die koste per 91c per keer. Onthou dis vir baba #1. As jy dit vir 2 kinders sou bereken sal dit nagenoeg slegs 50c `n doek kos.

Daarteenoor sien ek dikwels in advertensies dat hulle nou die R/doek uitwerk. Bereken teen die huidige prys in 2016 is R1,90 die gemiddelde koste van `n weggooidoek. (Daar is baie handelsname wat selfs meer kos.) Die koste van doeke dan vir 1 kind vir 2 jaar teen 6 doeke per dag is R8322. Vir kind #2 is dit wéér R8322.  Vir ons klink dit nie na `n goeie belegging nie.

4. Gerieflikheid
Daar is idees daarbuite dat lapdoeke ‘jiggie’ is. Daar is selfs diegene wat dink dat lapdoeke soos in ouma se dae nog gevou moet word en `n waterproof moet kry. Lapdoeke is met die tegnologiese verwikkelinge net so gerieflik soos weggooidoeke.

Ek gebruik Mother NatureProducts se lapdoeke. (gaan kyk gerus op hulle webtuiste wat daar alles beskikbaar is) Dit is so maklik om dit te gebruik dat selfs PappaA kan `n doek ruil. Dit word plaaslik vervaardig en is van bamboesstof gemaak. Die lapdoeke is beskikbaar is oulike patrone en kleure. Daar is so baie opsies op die mark van verskillende doeke (AIO of ‘Pocket’of Nature doeke) en dis by baie plekke verkrybaar.  Maar ek verkies hierdie doeke nadat Seun1 11 maande dit gebruik het. (Hy is nou gepotty train, ons het nie oorgegaan na ander toe nie, as jy gewonder het ; ) ).

Ek hoop hierdie gee vir iemand daarbuite inligting om oor te bepeins rondom die gebruik van lapdoeke. Plus daar is niks mooier as `n baba se boudjies in lapdoeke nie.

Groete Mamma S


Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies