Spyskaartbeplanning


Daar is seker baie mammas daar buite wat elke dag met die dilemma sit: Wat eet ons vanaand? Ek het vroeg in my getroude lewe, voor kinders, al besef dit is iets wat elke vrou oor wonder. Na `n bietjie navorsing het ek op `n baie praktiese manier afgekom wat ek al vir 2 jaar gebruik: Spyskaartbeplanning.
Spyskaartbeplanning klink na `n groot taak maar dis eintlik eenvoudig en haal die “wonder wat ons eet” uit elke dag. Ek beplan nie 3 maaltye `n dag nie, maar beplan slegs vir die grootste ete van die dag. Vir ons is dit middagete, maar dit kan net so gebruik word vir aandete ook.
Die ander 2 etes is redelik vas bv. pap vir ontbyt en vir die ander ete (aandete) hou ek `n verskeidenheid maklike etes byderhand bv. toebroodjies, slaai of muffins.
Dit is hoe ek Spyskaartbeplanning stapsgewys doen:
Stap 1: Maak `n lysie van al die disse wat jou gesinne geniet bv:
·         Macaroni en kaas
·         Kerrie en rys
·         Wors en kapokaartappels
·         Hoenderroerbraai
Sorg dat jy genoeg disse het vir die aantal dae wat jy gaan kos maak. Ek maak nie kos op die Sabbat nie, dus beplan ek vir 26 etes elke maand.
Stap 2: Maak `n maand bladsy op die rekenaar of sommer vryhand op `n A4 papier.
My maand bladsy (sien foto hieronder) is `n gelamineerde bladsy waarop ek blokkies getrek het. Elke maand vee ek hom skoon en vul hom weer in met `n “white board” pen.
Stap 3: Vul eerstens enige spesialedae in bv. kampnaweek, gemeente etes of langnaweke.
Stap 4: Maak nou die res van die blokkies vol met die disse wat jou gesin geniet.
Dis nou die lysie disse van stap 1. Ek weet ook van die metode om vir elke weeksdag `n tema te gee bv. Maandae is left-overs, Dinsdae is Groente, Woensdae is gebak, ens. Die blokkies word dan gevul met daardie spesifieke dag se temadis.
 
Stap 5: Hersien die spyskaart sodat julle `n verskeidenheid in `n week eet.
Ruil disse uit totdat jy tevrede is. Ek probeer nie te veel rysdisse in een week sit nie en wissel dit af met groentedisse of gebak. LW Gebak op die spyskaart verwys na pizza, piesangbrood of iets wat ek kan bak vir die volgende dag se ete. Dit kan ook vetkoek insluit.  In die winter ruil ek gebak uit met sop. 
Ons het geen probleem om 2 dae na mekaar dieselfde kos te eet nie, dus sal Sondag en Maandag se kos dieselfde wees en Donderdag en Vrydag se etes is dieselfde. Vir nou is dit wat vir ons werk, omdat dit moeilik is om respte te kry wat slegs 2 porsies maak. Ek maak `n dis wat in 4 porsies gedeel kan word en ons eet dit oor 2 dae. `n Ander opsie is om die 2 oorblywende porsies te vries en dan op `n ander dag uit te haal.

Stap 6: Maak nou `n weeklikse of maandelikse inkopielys met die spyskaart langs jou. Sodoende sal jy verseker wees dat jy al die nodige bestanddele in jou huis het.
Probeer dit gerus eers vir `n week en kyk of dit die spanning verminder. Dit is die moeite werd om te probeer.

Groete MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies