Geen TV?



       

Dis korrek. Vandat ek op my eie bly het ek nog nooit `n TV besit nie.  Ons is amper 4 jaar getroud en het nog nooit `n TV gehad nie en beplan glad nie om een ooit aan te skaf nie. Is dit `n bietjie te drasties na jou smaak? Kom ek verskaf `n paar redes hoekom ons nie die nut in `n TV sien nie of eerder hoekom `n TV nie goed is nie.
Ons geloof is die middelpunt van ons lewe. As wedergebore Christen wil ek my lewe leef soos wat daar vir ons gesê word in die Bybel. In Psalm 101:3 staan:
“Ek stel geen lae ding voor my oë nie, die dade van die afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie.”
In die KJV klink dit soos volg:
“I will set no wicked thing before mine eyes:...”
Met ander woorde ek wil nie slegte dinge doelbewus voor my oë sit of enige iets kyk wat nie in lyn met die Bybel is nie.
Met dit in gedagte, kom ons dink bietjie na watter tipe programme op TV is. Geweld, egbreek, diefstal, roof, moord, laster, afgodsaanbidding en veragting van gesag is alles vandag op die TV te vind. Jy kan sê dat jy kyk net daarna, jy doen dit mos nie self nie, maar deur na dit te kyk bereik die TV sy doel.  Die TV se doel is om ons desensitief te maak of af te stomp vir hierdie verkeerde dinge. Om van die rykes te steel en vir die armes te gee, lyk mos goed en reg, maar steel is verkeerd volgens God se standaarde ongeag die motief daar agter. 
Voor TV in Suid-Afrika toegelaat was, het eertydse minster Albert Hertzog `n goeie poging aangewend om dit solank as moontlik uit ons huise te hou, want hy het gemeen dit sal die volk sy waardes laat verloor.  En hy was reg.
Die TV het die duiwel in ons huise ingebring en ons waardes by die agterdeur uitgeskuif. Die eerste keer wat `n buite-egtelike verhouding gewys word op TV skok dit jou dalk. Die tweede keer, laat dit jou wenkbroue lig, maar die derde keer dink jy, ag dis net TV. Ons waardes word gemeet aan dit wat op die TV is en nie meer aan dit wat in die Bybel is nie.
Dit bring ook idees in ons gedagtes wat nie reg is in God se oë nie. Ons sien hoe getroude pare mekaar verneuk want hulle het “ware liefde” by iemand anders gevind. Egbreek lyk nou nie meer so erg nie, dis immers “ware liefde”. Ons kinders kyk na programme waar die klein akteurtjies hulle “dom” ouers ore aansit en dan probeer die ouers gesag uit oefen in hulle huise en kan nie verstaan waar boetie alweer sy aapstreke leer nie. Dit kan seker nie die TV wees nie. 
Akteurs en sportsterre word mense, insluitend ons kinders, se rolmodelle. Ek wil nie graag hê dat my kind `n ander mens aanhang nie of sy gedrag naboots nie, maar dit is dikwels vandag die geval met ons jeug.
Party mense argumenteer dat hulle net Christelike programme kyk. Dit lyk dalk na `n geldige argument maar hoeveel tyd neem die TV in beslag. En hoe gereeld reël ons nie ons lewens volgens die TV skedule nie. Ons kan ongelukkig nie help by die kerk nie want in my agterkop dink ek: “Ek wil immers die rugby kyk daardie tyd”.
Maar wat van die nuus? Ek weet nie of mense bewus is nie, maar daar is nog so iets soos radio’s of koerante. Lees of luister daagliks net 10 minute en jy is heel waarskynlik net so op hoogte van wat aangaan.
As kind het ek in `n huis groot geword waar ons op `n stadium 7 TV’s in ons huis gehad het. My pa het geargumenteer dat niemand nou hoef te baklei om sy of haar progam te kyk nie. Maar uit my amper 10 jaar ondervindig sonder `n TV het ek die volgende agtergekom:
·         Ek reël my eie skedule. Ek het nie `n saak wanneer 7de Laan wys nie.
·         Ek betaal nie maandeliks `n fooi nie, dus meer geld in my sak.
·         Ek het meer tyd vir ander dinge.
·         Ons gesin spandeer tyd met mekaar deur te gesels en te speel.
·         My kind word glad nie beïnvloed deur die TV nie.
·         Ons word nie vermaak nie, ons het stokperdjies wat ons eerder geniet.
·         Ons lees baie meer as die normale mens op straat.
·         My kind het `n liefde vir lees, al voordat hy 1 was.
·         Ons luister radio wat ons ouditiewe vaardighede `n hupstoot gee.
·         My waardes word deur die Bybel bepaal.
·         My rolmodel is Jesus Christus, nie een of ander “bekende” nie.
Hierdie is my persoonlike mening, maar ek hoop dit gee ook mense iets om oor na te dink en dat meer mense van die TV weg sal beweeg en nader aan God sal kom.
Groete MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies