Beskeie kleredrag



Kan jy `n Christen van `n nie-Christen onderskei gebasseer op sy kleredrag? 
Hierdie is `n vraag wat ek al lank oor tob en al baie vir die kinders waarvoor ek skool gegee het, gevra het. Die kinders se antwoord is eenvoudig nee. Ek wonder of moet `n mens nie juis `n onderskeid kan tref nie. As ons nie soos die wêreld moet wees nie, sluit dit seker die wêreld se kleredrag ook in.

In 1 Tim 2:9 staan daar geskrywe:
“ So ook moet vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie,”
Uit hierdie vers kan ons sien dat ons nie onsself moet beklee met die klere van die wêreld om die oë gevestig op ons te kry nie, ons moet beskeie aantrek sodat ons mense na God toe kan wys. 

Wat is “behoorlike kleding”? Wel dit is `n ander vraag. Ek glo dat as jou klere nie aanstoot vir jou medemens gee nie en as jou kleredrag ook nie `n struikelblok vir mans is nie, is jy op die regte spoor. Hierdie vraag is `n gebedsaak wat jy na God moet bring om te vra vir leiding en wysheid vir wat vir God aanneemlik is. 

In `n wêreld waar die lyn tussen mans en vroue daagliks vervaag, voel ek is dit nodig dat vrouens hierdie lyn weer duidelik moet stel. God het ons as vrouens spesiaal gemaak, ons is nie dieselfde as mans nie. Ons liggaamsbou is nie dieselfde as mans nie, ons doel op aarde is nie dieselfde as mans nie en heel waarskynlik is ons pligte daagliks ook nie dieselfde as die van mans nie. Nou hoekom wil ons dan so graag soos mans aantrek?


In Deut 22:5 staan daar:
“`n Vrou mag geen mansklere dra nie, en `n man mag geen vrouensklere aantrek nie, want almal wat dit doen is vir die HERE jou God `n gruwel.”
Ek weet dat hierdie `n wet is wat vir die Israeliete gegee is nie vandag hoef te onderhou nie, maar hoekom voel God so sterk oor hierdie saak? Is dit vir God belangrik dat die kinders van die Here hulle behoorlik moet beklee met gepaste klere?
Dit is my persoonlike oortuiging dat dit vir God aanneemlik is, as ek as vrou net vrouensklere dra (dit wat mans nie dra nie nl. Rompe en rokke). 

Beskeie klere eindig nie net by die skeiding tussen mans en vroue nie, maar strek tot by die swembad. Meeste mense swem vandag in klere wat kleiner is as hulle onderklere. Ek weet dit is vir my man baie moeilik om strand toe te gaan en nie al hierdie vrouens raak te sien nie en dis seker vir alle mans moeilik. Ek wil nie meer `n struikelblok vir mans wees nie. My liggaam behoort aan God en is geleen aan my man in ons huwelik. Dit is nie vir die hele wêreld om te sien nie. 

Wenke vir beskeie kleredrag:
Kyk vir rompe of rokkies wat van die begin af langer is as normaal, jy kan dit altyd korter maak indien jy kort is of die rok/romp is `n ongemaklike kuitlengte.

 Wanneer hempies net dun bandjies het of te laag gesny is, kan jy altyd net `n "halftee" onderaan aantrek.
Daar is regtig baie opsies vir gepaste swemdrag deesdae beskikbaar. By miladys is daar pragtige swemrokkies. Jy kan selfs `n vol swembroek met `n broek aantrek of `n oefenrompie. Nog `n gewilde opsie is om `n "surftop" aan te trek met gepaste onderstuk. Moenie verwag om die kompleet uitrusting by een winkel te vind nie, soek rond.

 





 



Om dit op te som sal ek sê dat as jy die pad saam God stap en deur hierdie heiligmakingsproses gaan, sal jy wel eendag voor die deur van kleredrag te staan kom. Ek bid dat God jou sal lei en nodige wysheid sal gee oor wat “behoorlike kleding” vir jou is. 

Groete MammaS
Ter nadenke: Wat sê jou kleredrag van jou geloof?
  

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies