Gebare taal vir babas




Babas kom nie met `n handleiding nie en om hulle te probeer verstaan het al menigte mammas `n kopseer gegee. Ons sê dikwels dat dit beter sal gaan sodra die kleintjie net vir ons kan sê wat fout is of wat hy wil hê.

Voor Seun1 se geboorte het `n vriendin vir my vertel hoe sy dit met haar kinders gedoen het en steeds doen (sy het 4 onder 5 jaar oud). Sy het gesê dat hulle dit baie maklik aanleer en dit so `n groot aanwins is want hulle kan met jou kommunikeer op `n vroeër ouderdom.

Toe Seun1 sy opwagting maak het ek stadig maar seker vir hom gebare gewys. Ek het eers net gefokus op die teken vir “piepie” omdat ons “gepotty train” het vanaf geboorte. Op 8 maande het hy begin handjies klap en gewaai(hy waai al mooi as ons sê “tata”). Dis `n teken dat hulle dan al goeie beheer oor hulle handjies en vingertjies het.

Ek het begin met “klaar” deur die gebaar te wys as sy kos klaar geëet was of as hy klaar gepiepie het op die toilet. Hy het dit vinnig bemeester.

Die volgende gebaar was “nog”. Ek het sy stukkies kos op sy tafeltjie neergesit en as dit klaar was, het ek vir hom gewys “nog” en dan vir hom nog gegee. Hy het vinnig agtergekom deur die gebaar te wys word hy beloon met nog kos. Ek het dieselfde gedoen met lees. As een boek “klaar” was het ek gewys-vra of hy nog `n boek wou lees. Hy wys nou baie mooi dat ons nog moet lees.

Daarna was dit die woord “nee” se beurt. Omdat ons as mammas baie nee sê vir `n peuter gedurende die dag was dit die gebaar wat Seun1 die vinnigste aangeleer het.

Ek het besluit om nie “ja” nou vir hom aan te leer nie maar ek fokus nou eerder op “asseblief” en daarna “dankie”. Op 14 maande oud kan Seun1 al 8 handgebare maak.

Die fokus is nie dat die kleintjie die gebaar perfek maak soos voorgeskryf nie, maar eerder dat hy konstant dieselfde gebaar maak vir die woord sodat hy met mense kan kommunikeer.

Daar is nog baie woorde wat `n mens vir die kleingoed kan aanleer soos pappa, mamma, kat, hond, eet en melk.  Gaan kyk gerus op diéwebtuiste om meer uit te vind oor gebare taal vir kleingoed.

Groete MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies