Koevertstelsel- Finansies




Reeds as kind het my ouers my goeie finansiële advies gegee: “ Dis maklik om geld te maak, maar dis `n kuns om geld te hou”.
Hoe waar is daardie stelling nie vandag nie. Elke Jan, Rap en sy maat is in die skuld. Hetsy karskuld, studielenings, korttermynlenings of selfs `n klererekening. Ja, jou klererekening is skuld. 

Die Bybel is baie duidelik oor skuld. In Spreuke 22 vind ons die volgende vers: 7 “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is `n slaaf van die man wat uitleen”. Dit is hieruit duidelik dat as jy aan iemand geld skuld, is jy `n slaaf van daardie persoon of instansies.
Dink mooi, as jy more jou inkomste sou verloor, wie gaan almal bakhand staan voor jou deur?
Met dié Bybelvers in gedagte, het ons mooi besin hoe ons as gesin met ons geld te werk moet gaan om goeie rentmeesters te wees.
My pa sê altyd: “ Kontant is koning” en ons het dit al telkemale gesien waar te wees. Maar in vandag se tyd kan jy nie jou hele salaris gaan trek en met `n vetgestopte beursie rond loop nie. Nou hoe dan anders?
Ek gaan voorts vir julle net `n verduideliking gee van hoe ons met ons finansies op die oomblik – met een vaste inkomste en af en toe ekstra geldjies- dit doen. Soos die lewe verander sal ons seker die metodes verander, maar ek het al baie gelees oor dié metode en hoe dit goed dit werk, veral as jy jou kaart vinnig “swipe”.

Stap 1: Lys
 Maak `n lys van al jou inkomstes voor aftrekkings.

Stap 2: Tiende
 Bereken `n tiende daarvan en gee dit aan God terug vir die instandhouding van die Priester wat God se Woord verkondig. (Meer oor jou tiende in `n ander post).

Stap 3: Vaste uitgawes
Betaal dadelik al jou vaste uitgawes. Bv Huur, spaargeld, selfone, Water en elektrisiteit, medies ens.
Let wel as jy skuld het sal hierdie gedeelte omtrent al jou geld steel. (Meer oor `n maklike manier om uit skuld te kom- op die eerlike manier- in `n ander post).

Stap 4: Koeverte
Trek die kruideniersware en alle ander veranderlike uitgawes se geld in kontant. Ons trek in die katgorie “KOEVERTE” `n vaste bedrag. – die som van al die koeverte saam, al spandeer ons niks of nie als daarvan nie.
Bv. Ons kategorieë is Brandstof, Krag, Huisware,Kruideniersware, Voertuie, Dokters/veearts.
Vir elkeen van die kategorieë het ons `n spesifieke bedrag. Bv Krag R200.
Skryf nou op `n koevert die kategorie neer en plaas die geld daarin. Doen dit vir elke kategorie insluitend kruideniersware. Wanneer jy dan iets uit daardie kategorie nodig het, haal jy die geld uit daardie koevert. Wat ookal oorbly, bly in die koevert tot volgende maand.
Ek weet ook dat sommige mense na afloop van die maand die geld wat oor is in `n vakansie koevert plaas en sodoende spaar vir `n groot uitgawe en dit dien ook as `n lekker motiveerder. As jy dit so wil doen moet jy net sorg dat as jy skielik `n kind dokter toe moet vat, die “dokter” koevert wel `n konsultasie of medikasie kan dek.

Stap 5:Persoonlike geld
 Trek vir jou en jou man/vrou elk `n ooreengekome bedrag wat julle persoonlike uitgeegeld is. By ons kry elkeen sy geld en wat jy daarmee doen is tussen jou en God. Ons glo dat jy hard werk en jy ook die vrugte daarvan kan geniet. Maar hier kom die ding: Geen skuld word met die geld betaal nie, dus kan jy nie skuld agter jou maat se rug gaan maak en dink jy betaal dit met jou persoonlike geldjies nie.

Hierdie is `n basiese opsomming van hoe ons, ons finansies hanteer. Ons lewe op een gemiddelde salaris van net my man, terwyl ek tuisbly en ekstra klasse gee soos kan. Dit is vir `n ons `n prioriteit dat ons eerder ons kinders `n goeie opvoeding gee by die huis. Ons streef daarna om eerder met minder klaar te kom sodat ek na ons kind(ers) tuis kan omsien.
Mag God jou lei om wys met jou geld te werk.
Groete, MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies