“Potty Train” van geboorte af



Wanneer mense hoor dat ons Seun0 van geboorte af “gepotty train” het, is hulle gewoonlik verbaas of bekommerd oor my kind se sielkundige welstand.



Eers `n paar feite rakende baba toilet opleiding of” Infant Potty training”:

  • ·         `n Groot meerderheid van die wêreld maak hulle babas groot sonder doeke.

  • ·         In die westerse kultuur het die gemiddelde ouderdom van kinders wat die toilet selfstandig kan gebruik, opgegaan van 18 maande na 3 jaar.

  • ·         Die evolusieleer laat mense glo dat babas dom is en geen bewustheid het van hulle liggame nie en nie dat hulle `n seën is van God en reeds beheer oor hulle liggaampies het nie.

  • ·         Die kind word nie sielkundige leed aangedoen nie, dis juis die teenoorgestelde want ons leer die baba van geboorte af die regte manier. Die feit dat die baba in sy doek gaan is nie omdat hy nie beheer het of bewus is van sy liggaam nie, dis omdat die ouer hom nog nooit`n alternatief gegee het nie.

Ons het van geboorte af geweet dis wat ons gaan doen en het ek reeds van geboorte af hom `n alternatief gegee.
Dit is so eenvoudig om te doen. Wanneer jy baba se doek ruil, hou hom oor die wasbak of toilet. As hy begin piepie, maak net `n psst geluid en lyk baie opgewonde. Die opgewondenheid gaan vanself kom. Ek het hom ook elke keer as hy klaar gevoed het of as wakker geword het gevat.
Dit is babas se natuurlike ritme. Hy sal nie piepie as hy in `n drasak of `n karstoeltjie is nie.
Ek het ook gesien dat hy elke keer `n gesiggie begin trek as hy wil gaan of hy het begin vreeslik ongemaklik lyk in die posisie waarin hy was.
Toe hy op 3 maande sy koppie kon regop hou, het ek hom direk op die toilet gesit, met `n Bumbo toilet trainer op. Hy het dadelik van dit gehou.
Ek het hom altyd vasgehou en by hom gebly. Die toiletstoeltjie gaan saam as ons die huis verlaat.

Op 5 maande het Seun0 al deurnag geslaap sonder om in sy doek te piepie. Ons het op omtrent 6 maande vir hom `n handsein gewys elke keer as ons hom vat en op 9 maande oud het hy die handsein self gebruik om te sê as hy wil gaan. Nes enige kleuter wat geleer word, wys hy soms as hy klaar begin het, of as hy te besig is om te speel, vergeet hy.

Vandat hy kon kruip op 7 maande, het hy na ons toe gekruip wanneer ons nie dadelik gereageer het nie. Dis wonderlik om te weet dat die Hemelse Vader klein babatjies so perfek skape dat hulle bewus is van hulle liggaampies en wat dit nodig het.

Ek het ook opgelet dat toe Seun0 nog baie geborsvoed het, hy die bors sou los, na my kyk en na `n paar sekondes weer suig. Ek het geweet dis wanneer hy gepiepie het, maar vir ons is voeding meer belangrik. Hy het ook soms geweier om te borsvoed totdat hy gegaan het.Op 10 maande oud sal hy ook ophou eet as hy weet hy moet gaan.
Ons gebruik daagliks 2 lapdoeke en 3 potty trainers- broekies wat soos onderbroekies lyk, maar bietjie vulsel in het, om  te keer dat hy lek. Die doel is om seun0 op 1 jaar van die doeke af te haal en dat hy op 18 maande selfstandige genoeg kan sê of wys as hy wil gaan sonder glipse.

Dis `n alleen-reis en ek weet van geen ander ouers wat dit so doen nie, dus is die raad maar min. Dis regtig die moeite werd want ons kan met ons kind kommunikeer oor sy behoeftes van vroeg af en hy vertrou sy ouers om hom te help daarmee. Ek glo dat ons hom hierdeur `n hupstoot gegee het.

Ek hoop hierdie sal nie net `n blik wees op die manier hoe ons dit doen nie, maar sal ook bietjie inligting rondom hierdie verleerde ouerskap tegniek gee.

Groete MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies