Plastiekvry - Kinders


As deel van plastiekvrye Julie (Plastic free July) wil ek graag die areas in die huis aanspreek waar die meeste plastiek verbruik word en wat ons kan doen om dit te verminder.

Ons gaan vandag aan met die tema "kinders". (As jy graag die kombuis weergawe wil lees, kliek hier en die badkamer weergawe, kliek hier)

Kinders kan verskriklik baie plastiekafval produseer. Van geboorte tot volwassene is dit eintlik skokkend hoeveel plastiekafval `n kind bydra. Meeste van hierdie afval is ons as ouer se skuld en nie die kind s'n nie. Kom ek verduidelik my stelling deur weer na die leuse van herwinning te kyk: REFUSE, REUSE, REDUCE, RECYCLE.

REFUSE (Weier)
Wanneer `n kind gebore word, begin hierdie kind verbruik. Of dit nou klere, speelgoed of doeke is. Deur van geboorte af te weier om plastiek te koop, sal noodwendig die afval verminder. Gebruik eerder lapdoeke as weggooi plastiekdoeke wat nie herwin kan word nie. (Lees hier meer oor lapdoeke) Gebruik eerder tuisgemaakte natlappies as wet wipes. (Lees meer hieroor) Gebruik eerder selfgemaakte houtspeelgoed of lapspeelgoed eerder as plastiekitems. 

REUSE (Hergebruik)
Koop sover moontlik 2de handse babagoedjies aan om die vervaardigingskoste en gebruik van plastiek te verminder. Neem goedjies by ander mammas oor wat hulle nie meer wil hê nie of gaan loer by een van die vele Solidariteit se "Ons Winkel"s in en koop eerder 2de handse klere, speelgoed en selfs babagoedjies soos stootwaentjies daar aan. Die Ons Winkel inisiatief help mense deur skenkings vanaf die publiek te verkoop teen billike pryse en die wins word weer teruggeploeg in die gemeenskap. Dus verbruik ons minder plastiek en terselfdetyd dra ons by tot verligting van armoede in ons gemeenskap.

REDUCE (Verminder)
Baie van ons en ons kinders kan met minder plastiek klaar kom. Dit is dalk in die begin goedkoper om `n plastiekitem te koop, maar die as gevolg van die swak kwaliteit gaan die item nie baie lank hou nie en dan moet ons noodgedwonge weer die item koop. Probeer eerder om van die begin af beter kwaliteit te koop. Kom ons dink aan kinderspeelgoed. Dis goedkoop en maklik om plastiekblokkies te koop, maar gaan die blokkies ooit nog werk vir `n volgende kind? Gaan jy die blokkies dalk kan verkoop as jou kinders groter is? 






Houtspeelgoed is regtig `n belegging. Nie net is dit natuurlik, herwinbaar en gifstofvry nie maar dit gaan soveel langer hou as sy plastiek eweknie. Plus houtspeelgoed kan altyd later verkoop word of geskenk word. 

Ek sal alle mammas aanmoedig om speelgoed te koop wat van natuurlike materiale gemaak is, eerder as plastiekspeelgoed. Dink aan lappoppe, staalkarretjies of houtitems. Koop eerder nou kwaliteit wat jou gesin nog `n lang rukkie kan dien.

RECYCLE (Herwin)
Ons is baie vinnig om vir kinders nuwe goedjies te koop net om te sien hoe die kind die boks waarin die artikel gekom het meer geniet as die item self. 

As ons na al die items kyk wat ons weggooi, is daar so baie potensiaal om vir `n kind speelgoed en selfs opvoedkundige materiaal uit te maak. 

Ek gebruik leë plastiekbakkies om legkaartstukkies of krale in te bêre of ons sny `n 2lt melkbottel se onderkant af en gebruik dit om vang speletjies mee te speel. Jy kan stukkies lap aan mekaar knoop en in `n tissueboks prop vir `n jong peuter om uit te trek. Hulle geniet enige nuwe materiale want dit vorm deel van hulle ondersoek- en ervaringsfase.



Hierdie is maar net `n paar idees.Daar is so baie idees deesdae beskikbaar wat `n mens met afvalmateriaal kan maak. Ek stel voor jy kyk eers na watter materiale jy beskikbaar het, soos melkbottels of margarienbakkies en dan soek jy idees om met daardie items spesifiek te doen. 

Hoop hierdie laat Mammas, soos myself, net weer besef dat kinders nie noodwendige nuwe gekoopte speelgoed ens. vereis nie en dat as ons net bietjie kreatief dink baie meer plastiekvrye kinders kan hê.

Groete Mamma S


Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies