Raad vir kinders met braking en diaree (loopmagies)

Ek wil begin deur te sê dat ek nie `n gesondheidsspesialis of dokter is nie en dat jy altyd jou instink moet volg om `n kind dokter toe te neem indien jy voel dit is die regte ding om te doen. 

Party keer kry kinders `n loopmagie of diaree en/of braking bloot net omdat hulle iets geëet het wat te ryk is vir hulle lyfies om te hanteer of soms vergryp hulle hulself aan lekkergoed by `n partytjie of by `n skoolfunksie. Partykeer eet hulle net deurmekaar, maar hoe ookal sy, dis steeds nie lekker om met `n kind te sukkel wat goor voel nie.

Ek het al verskeie oor die toonbank medikasie gebruik en dit het gewerk maar ons het begin soek na alternatiewe om altyd byderhand te hê en meer natuurlik is vir die ou siek lyfies.

Ek het toe op `n vreeslike interessante artikel afgekom in Medical News Today oor "Activated charcoal". Dit word deesdae in tandepasta en skoonheidsprodukte gebruik omdat dit toksiese stowwe uitttrek.

Ek het toe begin soek vir `n manier om dit vir kinders te gee. Daar is baie tablette of pille beskikbaar maar ons almal weet dat kinders op `n baie jong ouderdom nie pille kan afsluk soos volwassenes nie. 




Ek het toe begin soek en op `n resep afgekom wat "gummies" of "jellie babies" maak van die "activated charcoal" poeier. 

Hierdie poeier is beskikbaar vanaf Dischem maar vra gerus jou naaste apteek ook of soek aanlyn vir ander opsies.

Hier is `n skakel na die oorspronklike resep toe: Activated Charcoal Gummie Recipe

Die resep wat ek maak, en my kinders mal is oor, is as volg:
  • 1 pakkie jelliepoeier
  • 3 tl gelatien 
  • 1 el Activated charcoal poeier
  • 125 ml kookwater
Metode:
1. Gooi droë bestanddele saam.
2. Gooi kookwater by en roer tot gelatien opgelos is. WENK: Werk vinnig want dit stol    vinnig. 
3. Gooi in yshouers of vorms en laat stol. 
4. Die gummies is swart in kleur maar smaak steeds soos die jelliepoeiergeur van jou keuse. 

Ek gee gewoonlik 1 gummie elke halfuur na 1 uur. Kyk of die kind verbeter en staak sodra die kind beter is. 

Die yshouers wat ek gebruik is sommer vanaf Pephome, maar enige silikon of sjokolade- vormpiehouer sal die werk doen. 


Hoop dit help iemand wat al raad op is of in die middel van die nag met `n siek kind sit.

Groete Mamma S



Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies