Baba drasakke vs buidelsakke vs ring slings

Alle mammas was seker al in `n situasie waar baba net vasgehou wil word en jy het `n honderd-en-een dinge om te doen. Hoe nou gemaak? Meeste mammas weet al van `n drasak maar ek dink dat baie min mammas eintlik weet dat daar verskillende drasakke/buidelsakke beskikbaar is. Soos ek in die dorp rondloop sien ek ook baie minder mammas wat hulle kinders dra teenoor die wat stootwaentjies gebruik. 

Daar is so baie voordele aan die dra van `n babatjie. Kom ons kyk gou na `n paar.

  • Baba is rustiger want hy kan aan mamma vat en voel.
  • Ander mense kan nie sommer ongenooid aan jou baba vat nie.
  • In vandag se tyd waar kinders so maklik ontvoer word, is dit definitief veiliger om jou baba styf teen jou lyf te hê.
  • Jy kan borsvoed sonder dat enige iemand iets weet. 
  • Altwee jou hande is vry om inkopies te doen of om jou ander kinders te kan help.
  • Jy hoef nie `n stootwaentjie tussen nou winkelrakke te stoot nie.
Hierdie is maar net `n paar redes hoekom ek verkies om my kinders tot en met 1 jaar oud altyd aan my te dra.

Goed, jy is nou oorreed om `n drasak of buidelsak te koop, maar watter een?

Daar is hoofsaaklik 3 baba-drasakke op die mark beskikbaar.  (Die drasak met die staalraam vir stap en bergklim word nie hier ingereken nie)

1. Drasak met bande (amper soos `n rugsak)



  • Dis `n gestruktueerde sak met bande wat jou toelaat om die baba maklik in te sit en uit tehaal. Gewoonlik kan baba op 3 maniere gedra word: gesiggie na jou toe met koppie toe, gesiggie na jou toe met koppie oop of  baie later kan hy vorentoe kyk. (Met party sakke kan die baba later op jou rug gesit word)
  • Dit is egter nie `n baie sagte sak nie 
  • Kan nie gebruik word soos jy wil nie- die posisies is vas.
2. Ring sling



  • Baie sagter tipe drasak wat bestaan uit sagte materiaal wat saamgevat word deur 2 ringe.
  • Hierdie sling-tipe drasak is bitter maklik om te gebruik want jy gooi hom letterlik net oor jou skouer. 
  • Wat nog lekker is van hierdie tipe is dat baba kan lê ook en jy kan hom herposisioneer sodat hy vir elke persoon werk. My man kan hierdie ringsling gebruik deur net die band `n bietjie langer te trek. 
  • Hierdie sling dek `n wye ouderdomsreeks en ek dra my kinders tot en met 1 jaar of wanneer hulle verkies om eerder te loop, in die tipe sak.
3. Wrap of buidelsak


  • Hierdie tipe drasak is een lang stuk materiaal wat geen ringe of gespes bevat nie. 
  • Jy vou die wrap oor jou liggaam en deur `n paar knope te maak is jou babatjie gereed om in te sit. 
  • Dit vat langer om aan te sit en daar is `n leerkurwe betrokke. (*kyk gerus die kort video om te sien hoe maklik dit eintlik is.)  
  • Jou babatjie kan rustig slaap in die wrap en borsvoeding is baie maklik.
  • Die wrap kan verskillend gevou word en is sag om te gebruik. 
  • Dis ideaal vir klein babatjie tot en met so 3 maande, maar baie mammas gebruik hom baie langer as dit.
Nou is die vraag seker, maar watter een is die beste?

Ek dink elkeen dra sy eie meriete maar as jy net geld het vir een soort drasak sal ek verseker gaan vir `n ringsling. Dis die maklikste vir aansit en kan baie lank gebruik word.
Gaan kyk gerus rond en besluit self. Al 3 die soorte drasakke is beskikbaar aanlyn by takealot.

Watter drasak verkies jy?

Groete Mamma S




Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies