Borsvoeding- 2 kinders gelyk (Tandem)

Toe ek swanger geraak het met my 2de kind het ek steeds my eerste kind, toe 13 maande oud, geborsvoed. Vroeg al in my swangerskap het ek vra begin kry oor wanneer was ek van plan om my eerste te speen. Ek was nie bewus dat die feit dat ek my eerste kind deur my 2de swangerskap borsvoed ander mense so pla nie. Maar die opinies het gou vermeerder.

Mense was bekommerd oor my gesondheid, omdat borsvoeding volgens hulle te veel vitamiene en minerale uit my liggaam vat en dit die ongebore baba kan skade doen. Hulle was skynbaar ook bekommerd dat my eerste kind na die baba se geboorte jaloers sal wees omdat die baba nou ook borsvoed of dat indien ek besluit om hom na geboorte van die baba te speen sal hy die baba verkwalik en voel dat ek hom verstoot het. 

Ek kon nie glo dat iets wat so natuurlik vir my was, was vir so baie mense onnatuurlik nie...want as `n mens kyk na beeste sal die koei eers een kleintjie speen voor sy nog een het. 


Ja, ek weet dit klink dalk vir jou ook reg om dit so te doen maar vir my was dit belaglik. Ek het kinders en nie kalfies nie. 

Maar wat gemaak as jy soos ek bietjie dwars wil wees en jou eerste kind saam met jou 2de kind borsvoed?  Hier is my eerlike opinie.


  1. Dit is jou liggaam wat deur God gemaak is om jou kind te kan borsvoed. Daar is geen afsnypunt aan ons borsmelk gevoeg nie, solank die kind drink, solank sal jy (in meeste gevalle) melk produseer. 
  2. Dit is `n voorreg om te kan borsvoed sonder probleme vir `n lang tydperk. 
  3. Dis `n voorreg om swanger te word sonder om die eerste kind te speen. (Sommige vrouens se liggame sal eers weer ovuleer wanneer hul minder borsvoed of glad nie borsvoed nie.)
  4. Jy ken jou eie liggaam beter as enige iemand anders. Jy weet wanneer jy nog altwee kinders kan borsvoed of nie.
  5. Jy kan en mag 2 kinders van verskillende ouderdomme borsvoed. Jy is immers deur God gekies om daardie 2 kinders se mamma te wees. God gee vir jou inherent die voorreg om oor hulle gesondheid te kan besluit.
  6. Borsvoeding van `n ouer kind doen nie skade aan die ongebore baba nie.Lees gerus hierdie artikel.
  7. Kinders is aanpasbaar en sal jou dikwels verbaas deur hulle bereidwilligheid om "hulle" melkies te deel.
  8. Borsmelk is steeds voedsaam, al is die kind ouer. Dit is sommer loutere nonsens dat borsmelk geen waarde in hou vir `n ouer kind nie.Voordele van borsmelk vir `n ouer kind.
Kortom sal my advies aan `n mamma wees, om te borsvoed vir solank as wat sy en die kind wil borsvoed. Om nie bekommerd te wees oor ander se opinies nie, haar eie liggaam en oordeel te vertrou en te doen wat reg voel in hulle eie unieke omstandighede. 

Borsvoeding bly tops en die beste voordeel wat jy vir `n kind kan gee. 

Groete Mamma S

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies