Bababenodighede: Lekker om te hê

Ek het reeds `n post gedoen oor die items wat ek dink die absolute nodigste items vir `n babatjie is. Kliek hier en lees gerus meer hieroor. Dis baie minimalisties maar as jy net dit het, is jy reg vir baba. Daar is egter nog `n paar goedjies wat ek dink die lewe gemakliker kan maak. As jy dalk `n ekstra geldjie het of ouma wil graag `n spesiale geskenkie gee kyk gerus na die lysie hieronder.


  • Babamonitor
     Hier kan ons nou `n magdom opsies gee, maar `n basiese klankmonitor is meestal genoeg. Daar is wel monitors beskikbaar met video funksies, klankmonitering en daar is selfs nou produkte beskikbaar wat die hartklop en/of asemhaling van babatjie monitor. Jy moet self besluit wat vir jou die meeste gemoedrus gaan gee en jou sak gaan pas.


  • Witgeraasmasjien





Albei die bogenoemde witgeraasmasjiene is beskikbaar vanaf takealot.
Hierdie oulike masjientjies kom in baie vorme, partye met nagligte en nog `n paar funksies. Ek verkies een wat `n eentoning geluid soos `n waaier kan maak. Die ander 10 klankebane is gerieflik maar in my opinie nie nodig nie. 


  • Naglig


`n Hele klompie mammas sal sê dat hierdie `n moet eerder as `n keuse is. Maar ek het gevind dat ek my babatjies se doek sommer met behulp van `n selfoon se lig of `n badkamer lig wat aan is en die deur is op `n skreufie oop, kan ruil. Wees versigtig vir nagliggies wat die kamer soos `n sterrehemel laat lyk. Ek het `n rooi lawa-lampie wat ek ook inspan as `n naglig omdat my ouer kinders in dieselfde kamer as babatjie slaap en gevind dat hy net genoeg lig maak vir doekruil maar glad nie steurend is vir ander slapendes nie.
  • Swaddles 


Party mammas verkies om hulle babatjies styf toe te draai (swaddle) omdat babatjies baie keer hulself wakker skrik as gevolg van die skrikrefleks waarmee hulle gebore word. Veral pasgebore babas slaap beter en langer wanneer hulle so toegedraai word. Daar is baie opsies vir hierdie swaddles beskikbaar soos katoenstof of muslinlap ens. maar `n gewone flenniekombersie sal ook die truuk doen.


  • Swaai of bonsstoeltjie


Hierdie stoeltjies laat die babatjie in `n bietjie meer regop posisie sit/lê en kan dikwels swaai of vibreer. Party mammas is mal oor die ding en gebruik dit baie, terwyl ander mammas vind dat hulle babas dit haat. Ek persoonlik sit my babatjie van dag 1 af op die vloer op `n matrassie of kombersie neer. `n Mens moet net versigtig wees vir te veel " Baby Holding Devices" want dit kan meer skade doen as goed omdat `n babatjie plat plekkies op sy kop kan kry wat later sy groei belemmer. 

  • Borspomp


As jy besluit om te borsvoed sal jy seker ook al die vraag gevra het of `n borspomp nodig is. Ek borsvoed nou al vir 4 jaar aaneen sonder ophou en het persoonlik nog nooit een gebruik nie. Maar elke mamma se situasie is anders. Party mammas gaan vroeg terug werk toe, ander mammas verkies om hulle babatjie te leer bottel drink ook en ander mammas produseer so baie melk dat hulle dit kan skenk of stoor.

Daar is deesdae so baie verskillende opsies beskikbaar soos `n handpomp, elektriese pomp en ook die haaka. Die laasgenoemde is slegs `n silikonsuiger wat jy aan die een bors sit terwyl baba aan die ander kant drink. Dit vang dan net die melk op wat in elk geval sou uitloop. 


  • Doekruilmatrassie
Ek weet dit klink soos `n moet hê item maar elke ervare mamma sal vir jou sê dat hulle al doeke geruil het op ander oppervlaktes waar hulle op daardie stadium is. As jy die tipe is wat wel elke keer jou babatjie op dieselfde plek wil ruil vir watter rede ookal is `n goeie doekruilmatrassie belangrik. Ek sal aanbeveel jy kry eerder `n harde tipe wat net afgevee moet word, eerder as een waarvan die linne afgetrek en gewas moet word. 
Bumbo ruilmat
Ek hoop hierdie lysie gee `n paar idees van wat jy ekstra kan koop vir baba wat nie `n fortuin gaan kos nie, maar ook gerieflik sal wees om te hê.Wat sal jy by die lysie wil voeg?

Groete Mamma S


Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies