Geboorteplan: Alles wat jy moet weet

`n Geboorteplan klink soos `n goeie idee maar baie mammas sal vinnig vir jou sê `n geboorte verloop selde volgens `n plan. Dit is ook hoekom ek dit graag Doelwitte vir geboorte noem. Ek voel elke mamma het in haar hart tog `n idee van wat sy graag met geboorte wil bereik of dit nou is om natuurlik met of sonder pynmedikasie te kraam of om musiek te hê tydens kraam of absolute stilte of wat ookal vir haar belangrik is.

Ek self was nie so oortuig van die noodsaaklikheid van `n geboorteplan nie, maar my man het my oorreed om wel een op te stel. Met my eerste kind se geboorte was die verpleegpersoneel eintlik so bietjie gekant teen die idee maar hulle het gou besef dat dit nie `n lys van bevele is nie, maar eerder net voorkeure deur my as mamma. 

Ek het weer  `n geboorteplan (sommer dieselfde een) vir my 2de kind se geboorte gehad en dit was die beste besluit OOIT. Met my 2de kind se geboorte kon die dokter nie betyds  bereik word nie en ek het vir die verpleegster net my geboorteplan gegee en sy het presies geweet wat ek wil bereik tydens geboorte. Dit was `n lewensredder!

Wat is `n geboorteplan?

Ek sal `n geboorteplan opsom deur te sê dat dit jou doelwitte vir die geboorte is wat op skrif gestel word. Jy skryf neer wat jou doelwitte is vir kraam, die geboorte en ook na-geboorte. 

Hoekom is `n geboorteplan `n goeie idee?


  • Eerstens terwyl jy die geboorteplan opstel, gee dit jou die geleentheid om oor die geboorte te dink en dalk vrae te vra oor dinge wat jy nie weet nie. Sodoende is jy meer voorbereid vir alles wat tydens geboorte kan gebeur.
  • Dit kan die verpleegsters aan diens `n meer duidelike prentjie gee oor wat jy graag tydens die kraamfase wil hê waar meeste dokters nie teenwoordig is nie. 
  • Jy is dalk in so baie pyn of so deurmekaar dat jy nie aan alles kan dink om die mondelings tydens kraam oor te dra nie
  • Dit kan ook wees dat jou dokter wat die bevalling sou doen, vir een of ander rede nie beskikbaar is nie of die geboorte gebeur so vinnig dat die dokter (of jy) nie betyds by die hospitaal kan kom nie. In hierdie gevalle is `n geboorteplan baie belangrik omdat dit die persoon wat dan in staan vir die dokter, in staat stel om te weet wat jou voorkeure is, deur net vinnig die geboorteplan te lees en nie `n elle lange gesprek met jou te hê wanneer jy regtig nie so voel nie.
Hoe stel jy`n geboorteplan op?

Daar is baie templates op die internet beskikbaar, maar nie een van hulle gaan al jou presiese doelwitte vervat nie. So my voorstel is om deur `n paar te lees en net te kyk wat die algemene riglyn is. Daarna verdeel jy `n skoon vel papier in 3 afdelings nl: Kraam, Geboorte, Na-geboorte.Dink nou na oor wat jy graag wil bereik tydens elkeen van daardie fases. 

Vrae om oor te dink tydens elke fase.
1. Kraamfase
Wil jy vry wees om te eet tydens kraam? 
Wil jy musiek in die agtergrond hê? 
Wil jy inwendig geondersoek word vir ontsluiting?
Wil jy pynmedikasie op `n punt ontvang? 
Wil jy eerder self vra vir pynmedikasie of moet hulle die opsies aan jou noem tydens kraam?
Wil jy vry wees om te beweeg tydens kraam?
Wil jy in jou eie klere of hospitaalklere kraam?

2. Geboorte (normale vaginale geboorte)
Wie wil jy by die geboorte hê?
Wil jy vry wees om in enige posisie te kraam?
Wil jy graag op jou eie stoom druk of moet iemand jou leiding gee tydens druk?
Wil jy `n episiotomie kry of eerder natuurlik skeur indien dit gebeur?
Wil jy `n spieël hê tydens kraam om die baba te sien uitkom?
Wil jy die baba voel kroon?
Wil jy self jou baba na jou bors opbring?
Wil jy wag vir naelstring op te hou pols voor dit geknip word?
Wie moet die naelstring knip?
Wie wil dadelik borsvoed?

3.Na-geboorte
Hoe lank wil jy baba by jou hou na geboorte voordat metings geneem word?
Wil jy baba na die babakamer toe stuur?
Wil jy eksklusief borsvoed of glad nie borsvoed nie?
Mag medikasie of suikerwater aan baba toegedien word?
Wil jy baba oornag by jou hê? 
Moet hulle baba elke 2 uur bring vir voedings of enige tyd wanneer hy huil ?
Wil jy hê dat hulle baba deur die nag wakker maak vir voedings of wag dat baba self wakker word?
Wil jy baba slegs op aanvraag borsvoed ongeag die tyd?
Hoe vroeg wil jy ontslaan word?

Voorbeelde Hier is `n paar opsies om na te kyk, maar onthou asseblief dat elke vrou is anders en elke geboorte is anders. Jy ken jouself beter as enige iemand anders. Stel die geboorteplan op soos dit jou pas.



Indien jy `n keiser beplan is daar ook baie opsies beskikbaar:

Het enige van julle al `n geboorteplan gehad en was dit handig of nie?

Groete Mamma S









Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies