Minimalistiese leefwyse





As ek op die internet na idees soek oor klein leefplekke, sien ek telkens mense wat kla in watter klein huisies hulle moet leef. As ek egter ingaan op die artikel vind ek gou uit dat hulle idee van klein en wat klein is, ver verwyder is van mekaar. Volgens Amerikaners is 1100sq ft (m.a.w amper 360m²) `n klein woning. Ek is seker meeste van ons gemiddelde 3 slaapkamer huise is nie eers daardie grootte nie.
Ons bly sedert ons troudag in `n 54m² woning waarin ons gemaklik nog `n babatjie ook in verwelkom het. Ons sal seker die plekkie ontgroei binnekort, maar nietemin is daar verskeie idees wat ek wil deel oor hoe ons dit regkry om te leef in so `n klein spasie.
1. Wees vergenoegd met dit wat God vir jou gee.
Die Bybel sê in Matt 5 dat as jy kos en klere het, moet jy vergenoegd wees. Sodra jy dankbaar is vir wat jy het, eerder as om `n groter plek te begeer, maak dit die lewe soveel makliker.
2. Moenie opgaar nie.
Ons probeer bewus wees van wat ons in die huis inbring en gooi dikwels klere, ongebruikte ware en ou medisyne of produkte uit. Ons gooi dit nie op die ashoop nie, ons skenk dit wat ons kan of verkoop dit wat nog bruikbaar is.
3. Koop meerdoelige items.
Moenie `n item in jou huis hê wat net een ding kan doen nie. Ons het bv nie `n tv nie. As ons `n dvd of dokument wil kyk, gebruik ons die rekenaar. Seun0 het ook nie `n “ white noise” masjien nie, want ons gebruik winter en sommer `n waaier op sy laagste stelling om die lawaai te verskaf. Dit geld vir die kombuis ook. Moenie `n item koop wat onnodig plek bevat soos `n elektriese blikoopmaker nie, koop eerder kleiner toebehore van dit wat jy regtig nodig het.
4. Koop 2de hands of leen.
Wanneer ons opsoek is na iets wat ons nodig het, sal ons eerstens kyk of ons dit nie 2de hands kan koop nie. As ons `n item slegs vir `n tydperk gaan gebruik, probeer ons dit eerder by mense wat goedhartig is, leen.  Vir Seun0 was ons onseker oor `n stootwaentjie en of ons dit sou gebruik. Ons het toe een geleen en gebruik hom regtig minimaal. Ons sal na afloop van die toetssessie nie een aanskaf nie en nou het ons ook nie een wat gaan stof opgaar nie.
5. Benut die elke spasie wys.
Kyk na plekke soos onder `n bed. Dit bied baie stoorplek indien die matras op `n raam in plaas van `n basis is. Ons eetkamertafel het 2 langbankies wat 8 mense kan sitplek gee, maar skuif netjies onder die tafel in dat geen ekstra spasie ingeboet word vir stoele wat uitstaan nie.
6. Dink uit die boks uit oor die vertrekke.
Gebruik goeie oordeel om die groter van die spasie vas te stel. Indien die kamer groot is kan `n lessenaar in die kamer ingeskuif word waarop die rekenar kan staan. Niemand het gesê die kamer mag slegs `n bed bevat nie. Ons het vir Seun0 `n kas gebou wat 9 plastiek laaie bevat. Daar was geen plek in ons slaapkamer daarvoor nie, maar ons het `n ruim badkamer waarin hy nou perfek pas. Die kas word vir al sy klere, doeke, medisyne en wasgoed gebruik en het ook as ruiltafel gedien.
7. Gebruik meerdoelige meubels.
Wanneer meubels oorweeg word, kyk of dit nie ekstra spasie of stoorplek kan bied nie. Ons verkies `n dagbed in die sitkamer wat as ekstra slaapplek dien of ons bank wat oop vou as `n dubbelbed.  PappaA het ook `n krat gebou waarin ek my naaldwerk- masjiene kan bere en die deksel met spons oorgetrek wat nou dien as `n bankie vir die lessenaar.
Hoop hierdie idees sal mense help om ook in hulle klein huisie gemaklik te leef en vergenoegd en dankbaar te voel vir dit wat God aan ons gee. 

Groete MammaS.



Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies