Plastiekvrye leefwyse




Ons lewe vandag in `n wêreld wat gebombardeer is met plastiek. Oral om ons is plastiek artikels. Selfs ons kos word daarin verpak. Maar die wonderlike sintetiese stof is besig om ons natuur, wat God ons beveel het om te bewaar, ernstig te besoedel.
Dit vat `n plastiekitem honderde jare om af te breek in die natuur. Ons oseane bevat al drywende eilande van plastiek en ons weet nog nie eers wat die gesondheidsgevare alles behels nie.
Ons het besef dat ons nie die wêreld se leefwyse kan verander nie, maar ons kan ons eie leefwyse verander. Daarom het ons besluit om ons plastiek voetspoor te verminder. Hier is `n paar maniere hoe ons daagliks poog om dit te doen.
In die badkamer:
1. Gebruik lapdoeke in plaas van weggooi doeke. Nie net is dit goedkoper nie, maar ek dink nie ouers besef hoe skadelike die chemikalieë in die weggooi-doeke is nie.
2. Gebruik wasbare sanitêre doekies. Ja ons doen dit soos ons oumas dit gedoen het. Dit is gesonder vir `n vrou se liggaam as om al daardie chemikalieë so na aan jou vel te hê.
3. Gebruik waslappe i.p.v “wet wipes”.
4. Koop toiletpapier in papier toegedraai.
5. Gebruik skeermesse van metaal, waarvan jy net die lemmetjies vervang.
In die kombuis:
1. Vat lapsakke saam om inkopies mee te doen.
2. Gebruik of glas of vlekvryestaal houers. Ons is stuk-stuk besig om van alle plastiek wat vir kosdoeleindes gebruik word, van ontslae te raak en te vervang met glas of vlekvryestaal. Blikborde vir kinders is ideaal. Ons waterbottels in die yskas is glas, maar die wat ons ronddra is vlekvryestaal, selfs Seun0 se bottel waaruit hy water drink.
3. Gebruik ziplock sakkies, maar was dit weer indien dit moontlik is.
4. Probeer kos aankoop wat in boks, blik, papier of glas verpak is.
5. Ek het sakkies aangekoop waarin puree gegooi kan word en die kind suig dit net uit deur `n tuitjie. Dit is soortgelyk aan die wat jy in die winkels koop, maar is herbruikbaar.
Speelgoed:
1. Maak of koop kwaliteit houtspeelgoed.
2. Maak lapspeelgoed of hekel selfs speelgoed soos poppe of balle.
3. Gebruik artikels uit die natuur uit: stokkies, klippe, blare. Dis baie lekker speelgoed vir klein handjies.
Ons gaan nie plastiekvry kan leef in vandag se tyd nie, maar om bewustelik deur die lewe te gaan en te dink voordat ons artikels onnodig aankoop of `n sakkie aankoop vir inkopies kan ons `n klein verskil begin maak in ons nabye omgewing.
Groete MammaS



Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies