Seun0 se inseëning




Die Here oortuig ons almal van verskillende dinge op verskillende tye in ons geloofslewe. Ons glo dat die Heilige Gees lank terug, voor ons aan kinders begin dink het, ons begin oortuig het om eerder ons kinders te laat inseën as om hulle te doop.
Die kinderdoop is `n gebruik in meeste Suid-Afrikaanse Protestantse kerke vandag.
Die oorsprong van die kinderdoop vind ons by die Rooms-Katolieke kerk, die einste kerk waarteen ons voorvaders geprotesteer het en waarom ons vandag Protestante is.
Die einste kerk wat ons voorvaders vervolg het en ons gedwing het om `n veilige heenkome in Suid-Afrika te kom soek en vestig. Hoekom hou ons dan nog vas aan `n gebruik wat deur dié kerk ingestel is?  Is dit enigsins Bybels korrek?
In die Bybel gee Jesus self die opdrag soos ons dit vind in Matt 28:19:
“ Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
 As ons na die gedeelte kyk kan ons duidelik 3 stappe sien:
1. Maak dissipels. `n Dissipel is iemand wat Jesus volg en Hom as Verlosser aanneem.
2. Doop hulle. (Bekeringsdoop van Johannes soos ons dit vind in Mark 1:4)
3. Leer hulle om alles te onderhou wat Jesus vir sy dissipels geleer en beveel het, insluitend die wet.
Wanneer ons die Bybel lees vind ons baie voorbeelde waar mense gedoop is. (Lees Joh 3:23, Hand 19:5). In elke geval waar `n persoon gedoop is, is hy eers wedergebore en dan gedoop. `n Persoon word wedergebore as hy Jesus aanneem as sy Verlosser. Babas en selfs klein kindertjies kan nie wedergebore word nie, omdat hulle nie self die keuse kan maak om Jesus as hulle Verlosser aan te neem nie.
Nêrens in die Bybel lees ons van kinders of babas wat besprinkel is met water en sodoende gedoop is nie. Nie een enkele versie uit die hele Bybel dui aan dat `n gebruik was of moet wees nie.
Die kinderdoop sluit ook `n belofte in waar die ouers belowe om die kind te onderrig en te laat onderrig in die Woord.
Die Bybel sê egter in Prediker 5:4 “Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie”
`n Belofte aan God word `n gelofte genoem en die Bybel sê in Prediker 5:3: “As jy `n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe het.”
As jy egter as ouer aan God belowe om jou kind groot te maak in sy weë gaan God dit van jou eis. Dit is beter om nie te belowe nie, maar eerder alles in jou vermoë te doen om daardie kind in God se Woord groot te maak as wat jy belowe en nie jou gelofte na kom nie.
Daarom is ons oortuig deur die Heilige Gees dat dit die regte keuse was om Seun0 in te seën soos wat Jesus die kindertjies geseën het in Mark 10:14-16:
14 Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
15Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
16En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.”
Mag God ons die wysheid gee om hierdie kindjie in sy Woord groot te maak, tot eer van Sy naam.
Groete  MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies