Tiendes en offergawes

Wanneer dit kom by finansiële beplanning is daar een betaling wat nie net `n vaste uitgawe is nie, maar `n versteende een. Vir solank as wat jy leef moet jy jou tiende aan God betaal. In Maleagi 3:8 lees ons die volgende:

            “Mag `n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê:

            Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.”

Wat die vers vir ons leer is dat as jy nie jou volle tiende na God toe bring nie, jy besig is om God te beroof.

Dit is nie asof ons `n tiende van ONS geld vir God moet gee nie, al die geld is God se geld wat Hy aan ons toevertrou. Hy vra dat ons net 1 tiende moet teruggee aan Hom vir `n doel. Hierdie doel lees ons van in Maleagi 3:10 wat sê:

“Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my

   huis kan wees; ...”

Ons kan hieruit sien dat God wil hê ons moet eerstens ons HELE TIENDE bring.

Kom ons staan vir `n oomblik hier stil. Wat is my HELE TIENDE? Wel, daar was seker al baie debatte oor wat `n mens se tiende is en hoe dit bereken moet word. Vir ons is dit egter `n eenvoudige kwessie. As jy `n salaris verdien is dit `n tiende van die totale inkomste van jou salaris voordat `n sent afgetrek word. M.a.w voordat jou pensioen, medies, UIF of belasting afgetrek word.

As jy `n besigheid het, is dit `n tiende van jou inkomste minus jou uitgawes van die besigheid wat jou wins of profyt is. Die uitgawes sluit nie in belasting, UIF ens nie, dit is net uitgawes vir die besigheid bv aankope van goedere, brandstof ens.

Onthou ook om enige ander inkomste wat jy gekry het, wat bv nie elke maand vas is nie, in te reken. Betaal eerder meer as wat jy dink jou tiende is as om God te beroof.

 Tweedens sien ons dat die geld gegee moet word “sodat daar spys in My huis kan wees”. Dit kan verduidelik word dat God se Woord is vir ons die Lewende Brood en dat hierdie geld aangewend moet word vir die leraar wat die Woord verkondig in die kerk. Die leraar is ook verplig om `n tiende hiervan terug te gee aan die kerk.

Die betaling van ons tiende moet nooit gesien word as `n straf of `n las nie. Dit is vir ons `n vreugde om gehoorsaam te wees aan God. Dit is immers God wat elke dag in al ons behoeftes voorsien. Ons lees verder in Maleagi 3: 10

“en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle `n oorvloedige seën sal uitstort nie.”

Is dit nie wonderlik om te weet dat omdat ons aan God gehoorsaam is en ons tiende aan Hom teruggee, Hy ons oorvloedig sal seën nie?

Ek hoop hierdie verduideliking van hoe en hoekom ons ons tiende moet betaal, stel dit duidelik dat dit nie net `n verpligting is nie, maar dat dit ook die boodskap van seën is vir die wat God gehoorsaam.

Groete MammaS

Comments

Popular posts from this blog

Natuurlike raad vir baba met winde

Medisyne lys vir babas

Vinnige, maklike, 4 bestanddele dadelballetjies